Saturday, November 23, 2019

Waardes


Hierdie week was interesant gewees in die sin van die woord dat ek net basies baie moeg was om heeltyd op negatiwiteit te leef. Ek het wel my eie Twitter profiel, wat vir vier jaar op publiek gestel was vir almal om my te volg, op privaat te stel. Daardie besluit het nie baie gou en inpulsief gekom nie. Dit kom nou al vir ‘n tyd al. Maar dit is tydelik totdat ek besluit het wanneer die tyd reg is om die wêreld aan te durf op die sosiale media terrein.

Hierdie jaar was ‘n minus vyf op die positiewe skaal. Dit is nou eers November en daar is dae dat ek wens hierdie verdomde jaar kom tot ‘n einde. Dan is daar ander dae waar dinge vir my opkyk en ek rede het om positief te bly. Ek probeer baie hard om optimisties te bly in ‘n aansienlike negatiewe wêreld wat nog verder aangevoer word deur ‘n baie negatiewe jaar.

Ek probeer my lewe op die positiewe pad hou en dit is om nuwe uitdagings aan te pak, meer te ontspan oor naweke en soos byvoorbeeld klein dingetjies te doen soos om myself te bederf met ‘n komedie elke aand na werk. Dit werk op ‘n manier want dit is hierdie klein dinge in die lewe wat my nou aan die gang hou meer as enige iets anders.

Die belangrikste aspek van om positief te bly is ook seker maar om negatiewe mense uit te sny uit jou lewe uit, en dit meer spesifiek op sosiale media. Ek was altyd bereid om heeltyd vir myself te baklei sonder om op te hou en op die ou einde amper te verloor wie ek was. Ek is nie seker of ek net hierdie week baie moeg was nie. Hierdie jaar het ‘n nommer op my gedoen so dit kon ‘n rol gespeel het oor hoe ek gevoel het. Ek het net besluit om negatiewe mense uit te sny (of te blok) op sosiale media en vorentoe te kyk. En nie weer terug te kyk op dinge wat gewees het nie.

Die waarheid is dat ek nie meer kan fokus op die negatiewe nie, veral nie negatiewe mense nie. Ek sal raai dat dit als neerkom op selfwaardigheid op die ou einde van die dag. Selfwaardigheid was iets waarvoor ek baklei het, veral op sosiale media. Ek moes gedurig myself verdedig teen leuens en opgemaakte feite. Die feit dat daar so hard probeer was om my die feeks in die verhaal te maak was besig om my onder te kry, veral in hierdie jaar. Die beste was om weg te stap vanuit ‘n uiterse negatiewe situasie voordat ek myself heeltemal verloor het, asook my selfwaardigheid in die proses.

My waardes is vir my meer van belang as om ongesonde debatte te voer met mense wat daarop sal uitgaan om van my die slegte een te maak, en ek ken myself beter as dit. My leef volgens my waardes deur om almal in dieselfde lig te sien, ongeag wat hul agtergronde of ras is. Ek is nie perfek nie, maar my waardes maak van my ‘n baie beter mens. En dit sal ek nooit opgee vir enige iets nie.

Ek sal aanhou baklei vir dit waarin ek glo. Ek sal harder baklei vir vroue en kinders wat deur geweld geraak word. Ek sal nog harder baklei as mense verkies om die blaam op slagoffers te lê as om die oortreder verantwoordelik te hou vir die dade wat sy of hy gepleeg het. Ek besef nou dat daar beter maniere is om nie jou waardes op te offer nie.

Die beste ding wat ek kon ooit gedoen het, en ek moes sekerlik dit in die eerste plek gedoen het, was om negatiewe mense uit te sny uit my lewe uit. Dit is nooit te laat om dit te doen nie. Ek glo vas dinge kan van nou af net beter gaan. Al wat ek net moet doen is om nie terug te kyk nie. Ek is nie kwaad oor wat als gebeur het nie. Ek is eintlik op ‘n baie goeie plek in my lewe, al is daar dae dat dinge nie altyd 100% vlot verloop nie. Ek is op ‘n beter plek in my lewe as wat ek gewees het so ‘n week of twee gelede.

En dit is al wat saakmaak.




No comments:

Post a Comment