Saturday, October 19, 2019

Keuses


Hierdie jaar was nie baie maklik nie. Dit was hel op aarde. Okay, dit klink ‘n bietjie melodramaties as wat dit werklik is maar julle kry die prentjie. Dit klink oordramaties, maar ek is nogsteeds hier. Ek haal nog asem, ek het familie en vriende wat my deur dik en dun bystaan en wat ongelooflik lief is vir my, ek het ‘n werk en ek het die keuses gegee om my lewe te leef soos wat ek dit wil leef.

Ek het in my vorige inskrywing “Perspektief” basies die maande tussen Desember verlede tot Februarie 2019 beskryf in ‘n bietjie meer detail. Die redes daarvoor word in die inskrywing genoem en ek gaan dit daar los. My lewe daarna het nie so goed gegaan soos wat ek gehoop het dit sal nie. Ek het in Maart vanjaar my Jack Russel, Roxy, verloor. Sy was my hart se punt en het diep in ons almal se harte ingekruip. Dit was vir my en my familie ‘n skielike skok gewees, maar sy sal vir altyd in ons harte wees. Ons sal nooit vergeet hoe sy op haar stil manier die liefde uitgestraal na ons wat sy gedoen het nie.

Op Woensdag, 15 Mei 2019, was ek opgeneem in Netcare Family and Medical Centre vir ‘n operasie om my verstandtande te laat verwyder. Die herstel was ‘n bietjie meer uitdagend gewees weens aan my gebrek aan  geduld en my vrese dat die wonde nie ten volle sal herstel nie, al het die dokter gesê als het goed afgeloop. Ek het vir dae daarna meestal net geslaap weens die medikasie. Nie dat ek juis omgegee het nie. Dit was ook vir my lekker om net te slaap en te vergeet van al die negatiwiteit van die lewe.

Ek was ook effens bang om meer vaste kosse te eet en het geleef van roomys, custard en jogurt, en met die opvolg ondersoek het die dokter vir my gesê ek kan meer vaste kosse eet soos hamburgers byvoorbeeld. My eerste vaste kos wat ek daardie aand geëet het was sop en brood. ‘n Droom begin nogals.

Maande daarna het dinge effens beter gegaan, en ten spyte van my vele uitdagings wat my in die gesig gestaar het, het ek dit deur genade en wonderwerke oorleef. Ek het aangegaan met my lewe en vir die eerste keer het dit gevoel dat ek na dinge kon uitsien en dat ek die lewe saam met diè wat vir my saakmaak, kon geniet het.

Ongelukkig het daar weereens nog ‘n terugslag gekom toe my geliefde Labrador, Sahara, gesterf het in September vanjaar. Dinge het weer vir my opgekyk vooraf en dit was vir my hele familie ‘n uiterse hartseer tyd gewees. Ek was vir weke daarna nie myself gewees nie en het baie leeg gevoel, en die ongeluk ‘n week daarna (waarin ek genadiglik nie ernstig beseer is nie) het nie veel gehelp nie. Ek was in skok na die ongeluk gewees.

Ek het letterlik 2019 met al sy nonsens en dramas omgewens juis omdat al hierdie slegte ervarings net vir my teveel geword het. Ek was letterlik uitgeput met nek spasmas en knoppe op my skouer, en moenie begin met die kopsere en min slaap nie. Ek kon nie wag vir 31 Desember 2019 nie, waar ek al die kalenders kon vat en verbrand nie. Soggens het ek gesukkel om op te staan uit die bed uit. Hierdie jaar, soos wat ek genoem het aan die begin van die inskrywing, was hel gewees.

Ek skryf hierdie deel van my lewe juis omdat ek myself daardie keuse gegee het oor hoe ek my lewe kan leef met die jaar wat net ‘n paar weke oor het as jy hard daaroor dink. Hoe ek 2019 wil uitsien, ten spyte van al die negatiwiteit. Watter planne ek nog wil maak vir die toekoms. Wil ek 2019 op ‘n negatiewe noot laat eindig vir my of op ‘n positiewe noot.

Ek is tans ongelooflik baie besig by die werk asook besig om hard te werk aan my blogs om dit suksesvol as moontlik te maak. Ja, daar is uitdagings wat my tot die uiterse sal toets en baie min tyd om die dinge te doen wat ek graag sal wil doen, maar ek doen my bes om als dit te vermag.

Ten spyte van my traumatiese tye wat 2019 oor my gebring het, glo ek vas daar is iets positiefs om voor te leef. Ek het baie verloor en het gevoel dat hierdie jaar een lang nagmerrie is waarvan ek nooit sal wakker word nie. Ek bly positief en klou vas aan die hoop dat dinge beter sal raak want dit is al wat my hoop gee. Ek bly positief, want dit gee my ten minste iets om na uit te sien en my lewe ten volle te leef en te geniet. Dit vat altyd die negatiewe en hartseer ervarings om te laat besef dat daar soveel meer is in die lewe om voor positief te wees. En dit is hoe ek nou voel op hierdie oomblik.





Sunday, October 6, 2019

Die Afgelope Tyd


Die afgelope paar weke was dit ‘n emosionele wipplank gewees, veral met Yolandi. Sy noem in haar inskrywing Hier Om Te Bly dat 2019 vir haar net hel was reg van die begin af tot meer onglangs toe sy haar geliefde hond, Sahara, weens beroerte aan die dood moes afstaan en ‘n week later in ‘n ongeluk was. Dit is net hierdie swaar tye wat dinge net in perspektief stel. Ten spyte van dit als bly Yolandi optimisties oor die toekoms en wat dit gaan inhou. Sy was deur ‘n traumatiese jaar, so dit is ter verstane dat sy totaal en al uitgeput is na als dit. Ek het Vrydagaand met haar gepraat en ek kon hoor sy was moeg. Sy het aan my genoem Vrydagaand dat sy so moeg was Maandagaand dat haar nek seer was en dat sy na etenstyd net op haar bed gelê het, beisg om Showmax te kyk.

Yolandi het aan my genoem dat sy gatvol was om dié wat na aan haar was, te verloor. Sy het immers haar vriend aan kanker verloor, haar een hond, Roxy, in Maart en toe onlangs haar labrador, Sahara. Sy was moeg van al die hartseer wat 2019 vir haar gebring het. Sy het op twitter gesê dat die beste dag van 2019 sal wees die 31ste Desember. ‘n Mens kan daardie soort magteloosheid verstaan na als waardeur sy was die afgelope paar maande.

Yolandi het haar hartseer verlies oor Sahara op haar blog gedeel juis omdat dit vir haar vertroosting sou bring. Dit is nooit ‘n maklike ding om op die internet te deel nie, want daar sal mense wees wat nie verstaan nie of nie wil verstaan nie. Yolandi het soos byvoorbeeld maande terug hulde gebring aan haar vriend net na sy dood. Dit was ook nie vir haar maklik nie. Ek was daar by haar gewees die Sondag van sy dood en sy was die hele dag in trane gewees. So die huldeblyk was moeilik gewees.

Wat jammer is dat nie alle mense sal simpatiek optree nie, en die woorde wat gespreek was op Yolandi se verjaarsdag en skaars twee weke na haar vriend se afsterwe bewys dit. Woorde maak heel, maar woorde maak ook seer en alhoewel Yolandi baie ontsteld was oor wat gebeur het, het sy die regte ding gedoen. Woorde kan vars wonde oopsny en woorde het daardie manier om te wys wie en wat jy werklik is as mens.

Woorde wat gespreek is op die internet en gemik word om die persoon seer te maak is soveel erger. Woorde wat sonder intergiteit gespreek word wys eintlik baie van jou as mens. Op die ou einde van die dag, as woorde vanuit ‘n plek van haat gespreek word, sal ‘n vroom gesiggie en ‘n Bybel onder die arm jou niks help nie.

Woorde op sosiale media kan mense seermaak. Wees versigtig met jou woorde. Spreek woorde met intergiteit, dan sal mense meer respek het vir jou as mens. Yolandi is wel positief oor die toekoms, maar is deur ‘n ongelooflike hartseer jaar en is baie moeg en weerloos as gevolg daarvan. As iemand op ‘n mens se gevoellens trap wat in rou is oor ‘n paar verliese, dan kwalifiseer jy as ‘n boelie sonder ‘n greintjie intergiteit. En dit wil niemand wees nie.