Saturday, November 30, 2019

Geloofwaardigheid

‘n Mens se geloofwaardigheid aan die wêreld is seker maar een van die belangrikste aspekte van om ‘n goeie mens te wees. Dit kan ook tog so maklik bevraagteken word of geruineer word met een oomblik van swakheid of as jy jou hand ‘n bietjie te veel oorspeel het in ‘n kort oomblik.

In Augustus het beide ek en Yolandi die inskrywings “Vier Jaar” en “Perspektief” geskryf wat basies gegaan het oor die teistering wat Yolandi moes deur maak sedert 2014 tot 2018. Ons het basies net die feite neergelê om ons weergawes te vertel nadat beide van ons valslik daarvan beskuldig is dat ons hierdie individu waaroor die inskrywings gegaan het, geteister het. En dat dit bykans onmoonlik was dat ons die skuld moes kry vir hierdie individu se siekte.

Yolandi was die afgelope jaar ongelooflik besig gewees. Sy het ‘n uiterse moeilike jaar gehad en dinge was ook maar baie stresvol aan haar kant. Yolandi het ‘n paar Saterdae gelede ‘n paar inskrywings gedoen wat sy wou gedeel het op Twitter. Die profiele waar sy dit wou gedeel het was op privaat gestel. Dit is nog onseker of Yolandi vergeet het om dit oop te stel na ‘n paar maande of sy nog van plan was om dit te doen, maar daar is iets soos klein genades op die ou einde van die dag.

Yolandi het sowat ‘n goeie paar weke gelede vir my gesê dat sy kan nie die gevoel afskud dat sy deur hierdie individu, wat sy al in 2018 op Twitter geblok het, dopgehou word. Dit was òf deur die individu se vriende òf deur ‘n valse profiel. Ek het aan haar genoem dat sy dalk net ‘n bietjie oorwerk was en dat sy oorstuur was met die hartseer waardeur sy die afgelope paar maande was. Nogsteeds kon Yolandi nie daardie gevoel afskud nie, maar ongelukkig was daar geen bewyse of enige iets aansienliks wat kon wys dat sy dopgehou word nie.

Met die inskrywings getitled Skynheilig en Onthou het Yolandi ‘n volg versoek gesien van ‘n profiel met die naam van Natalie Kes. Die profiel het ook ‘n prentjie met ‘n sê-ding wat in Afrikaans was, as ‘n profiel foto gehad. Die mense wat hierdie profiel gevolg het, het net nie reg geklink nie. Volgens Yolandi was iets nie reg nie en sy het na haar groot profiel gegaan. Die profiel het haar ook gevolg daar.

Hierdie vals profiel sou heelwaarskynlik nooit ontdek was as die twee blog twitter profiele op privaat gestel was nie, dus was dit dalk ‘n goeie ding dat Yolandi dit so gelos het toe sy moes. Sy het my laat weet dat sy die profiel Natalie Kes geblok het van al die moontlike groot profiele af. Op die Dinsdag na die ontdekking haar groot twitter profiel op privaat gestel, juis omrede dat sy wou wegkom van enige negatiewe mense af of van valse mense af wie se sê en doen twee verskillende dinge is.

Hierdie individu, kan ek sê, het haar hand oorspeel en sy was op die onverwagste manier ooit uitgevang want in Februarie vanjaar het hierdie individu een of twee inskrywings op haar eie blog gedoen waar sy genoem het dat sy “alle boelies uitsny” uit haar lewe uit weens haar gesondheid. Na ‘n verdere ondersoek was hierdie Natalie Kes profiel in Desember 2018 geskep. Daar bestaan wel ‘n baie goeie rede dat hierdie individu se geloofwaardigheid aan die wêreld baie sterk betwyfel kan word in die sin van die woord dat haar blog en haar inskrywings op sosiale media nie eintlik veel kredietwaardigheid kan hê nie.

Yolandi probeer eintlik baie hard om weer haar lewe op dreef te kry na so baie terugslae vanjaar. Die laaste ding wat sy nou op hierdie oomblik nodig het, is om van vooraf deur hel te gaan waardeur sy was vir vier jaar, net om weer die leuen op die internet te lees dat sy ‘n boelie is wat mense teister op sosiale media. Of die blaam te kry sou die individu weer siek raak of so iets.

Yolandi is ook ongelooflik baie moeg na ‘n dreinerende jaar. Die beste ding wat sy kon doen na die ontdekking van daardie vals profiel, was om dit te blok soveel as moontlik. Hierdie inskrywing is ongelukking nie ‘n inskrywing waar feite uit my duim uitgesuig is nie. Daar is meer tot die inskrywing as die voorgevoel wat Yolandi gehad het.
Yolandi kon net haar kop skud in totale magteloosheid toe sy besef het dat sy al die tyd reg was. Al wat sy wil doen meer as enige iets anders is om net voort te gaan met haar lewe en die dinge te doen wat sy graag wil doen. Yolandi wil weer haar lewe op dreef kry en nie teruggehou word nie. Ongelukkig gaan daar mense wees wat nie wil laat gaan nie en hierdie individu is een van hulle.

Perspektief

Vier Jaar






Saturday, November 23, 2019

Waardes


Hierdie week was interesant gewees in die sin van die woord dat ek net basies baie moeg was om heeltyd op negatiwiteit te leef. Ek het wel my eie Twitter profiel, wat vir vier jaar op publiek gestel was vir almal om my te volg, op privaat te stel. Daardie besluit het nie baie gou en inpulsief gekom nie. Dit kom nou al vir ‘n tyd al. Maar dit is tydelik totdat ek besluit het wanneer die tyd reg is om die wêreld aan te durf op die sosiale media terrein.

Hierdie jaar was ‘n minus vyf op die positiewe skaal. Dit is nou eers November en daar is dae dat ek wens hierdie verdomde jaar kom tot ‘n einde. Dan is daar ander dae waar dinge vir my opkyk en ek rede het om positief te bly. Ek probeer baie hard om optimisties te bly in ‘n aansienlike negatiewe wêreld wat nog verder aangevoer word deur ‘n baie negatiewe jaar.

Ek probeer my lewe op die positiewe pad hou en dit is om nuwe uitdagings aan te pak, meer te ontspan oor naweke en soos byvoorbeeld klein dingetjies te doen soos om myself te bederf met ‘n komedie elke aand na werk. Dit werk op ‘n manier want dit is hierdie klein dinge in die lewe wat my nou aan die gang hou meer as enige iets anders.

Die belangrikste aspek van om positief te bly is ook seker maar om negatiewe mense uit te sny uit jou lewe uit, en dit meer spesifiek op sosiale media. Ek was altyd bereid om heeltyd vir myself te baklei sonder om op te hou en op die ou einde amper te verloor wie ek was. Ek is nie seker of ek net hierdie week baie moeg was nie. Hierdie jaar het ‘n nommer op my gedoen so dit kon ‘n rol gespeel het oor hoe ek gevoel het. Ek het net besluit om negatiewe mense uit te sny (of te blok) op sosiale media en vorentoe te kyk. En nie weer terug te kyk op dinge wat gewees het nie.

Die waarheid is dat ek nie meer kan fokus op die negatiewe nie, veral nie negatiewe mense nie. Ek sal raai dat dit als neerkom op selfwaardigheid op die ou einde van die dag. Selfwaardigheid was iets waarvoor ek baklei het, veral op sosiale media. Ek moes gedurig myself verdedig teen leuens en opgemaakte feite. Die feit dat daar so hard probeer was om my die feeks in die verhaal te maak was besig om my onder te kry, veral in hierdie jaar. Die beste was om weg te stap vanuit ‘n uiterse negatiewe situasie voordat ek myself heeltemal verloor het, asook my selfwaardigheid in die proses.

My waardes is vir my meer van belang as om ongesonde debatte te voer met mense wat daarop sal uitgaan om van my die slegte een te maak, en ek ken myself beter as dit. My leef volgens my waardes deur om almal in dieselfde lig te sien, ongeag wat hul agtergronde of ras is. Ek is nie perfek nie, maar my waardes maak van my ‘n baie beter mens. En dit sal ek nooit opgee vir enige iets nie.

Ek sal aanhou baklei vir dit waarin ek glo. Ek sal harder baklei vir vroue en kinders wat deur geweld geraak word. Ek sal nog harder baklei as mense verkies om die blaam op slagoffers te lê as om die oortreder verantwoordelik te hou vir die dade wat sy of hy gepleeg het. Ek besef nou dat daar beter maniere is om nie jou waardes op te offer nie.

Die beste ding wat ek kon ooit gedoen het, en ek moes sekerlik dit in die eerste plek gedoen het, was om negatiewe mense uit te sny uit my lewe uit. Dit is nooit te laat om dit te doen nie. Ek glo vas dinge kan van nou af net beter gaan. Al wat ek net moet doen is om nie terug te kyk nie. Ek is nie kwaad oor wat als gebeur het nie. Ek is eintlik op ‘n baie goeie plek in my lewe, al is daar dae dat dinge nie altyd 100% vlot verloop nie. Ek is op ‘n beter plek in my lewe as wat ek gewees het so ‘n week of twee gelede.

En dit is al wat saakmaak.




Saturday, November 16, 2019

Skynheilig


Een aspek van die mensdom wat my rooi sal laat sien is die skynheiligheid van mense. Soos byvoorbeeld as mense met vroom gesigte voor in die kerk sit met hul Bybels op hul skote besig om na die dominee se preek oor vergifnis en medemenslikheid te luister, net om na die diens hulself skuldig maak daaraan om mense te “bespreek” en te oordeel, dan wonder ek hoekom hulle in die eerste plek Kerk toe gegaan.

Of as mense vir God vra vir ‘n bietjie meer geduld met mense, net om 5 minute later ongeduldig in ‘n lang ry in die Spar te staan en wag en diep binne-in hulself te wens die mense wil net verdwyn. Ek is ook nie iemand wat daarvan sal hou om in ‘n lang ry in ‘n winkel te staan en wag nie, maar dit is een van daardie dinge.

Skynheiligheid is wanneer iemand hierdie Christelike boodskappies op Facebook of Twitter sal sit om vir die wêreld daar buite te wys watter goeie mens jy voorgee om te wees, maar tog sal daardie persoon iemand teiken, afknou of afkraak net omdat die persoon heeltemal verskillend is en heeltemal ander standaarde het as wat jy het. Almal het daardie reg op vryheid. Niemand het daardie reg om mense af te knou en blatant net te boelie net omdat daardie persoon braaf genoeg is om op te staan vir dit wat reg is.

Ek kan nie altyd vinger wys nie. Ek is nie perfek nie. Ek raak maklik ongeduldig met mense. En die einde van die jaar moegheid sal seker ook nie as ‘n verskoning dien nie. Ek kan nie kook nie, maar niks leer my om te leer kook nie so dit is nie ‘n verskoning nie. As ek kwaad is, dan sal ek so een of twee kragwoorde tussenin gooi. As ek opgewerk raak oor iets, of ek raak uitgestres, dan vergryp ek myself byna aan ‘n hele slab sjokolade. Ek het my foute. Ek het my tekortkominge.

Maar een aspek wat my omkrap van mense as hulle voorgee as iemand wat hulle nie werklik is nie, veral op sosiale media. Ek glo jy moet mense met die nodige respek behandel en reg behandel, dan sal die respek na jou kant ook toe kom. Om Bybelversies op sosiale media te sit, maar 5 minute later op Huisgenoot se Facebook forum iemand sleg te sê en af te knou net omdat daardie persoon nie met jou saamstem nie, maak van jou eerder ‘n mens met valse intensies en in my oogpunt beteken al daardie Christelike boodskappies en Bybelversies wat jy so elke oggend opsit maar niks.

Dit sal jou niks in die sak bring as jy mense sleg behandel in die regte lewe, sowel as op sosiale media nie. Of as jy mense afkraak en hul swartsmeer op sosiale media nie. Dink ‘n bietjie so daarna voor jy weer daardie boodskappie van hoop en vergifnis op jou Facebook of Twitter profiel sit.