Saturday, November 16, 2019

Skynheilig


Een aspek van die mensdom wat my rooi sal laat sien is die skynheiligheid van mense. Soos byvoorbeeld as mense met vroom gesigte voor in die kerk sit met hul Bybels op hul skote besig om na die dominee se preek oor vergifnis en medemenslikheid te luister, net om na die diens hulself skuldig maak daaraan om mense te “bespreek” en te oordeel, dan wonder ek hoekom hulle in die eerste plek Kerk toe gegaan.

Of as mense vir God vra vir ‘n bietjie meer geduld met mense, net om 5 minute later ongeduldig in ‘n lang ry in die Spar te staan en wag en diep binne-in hulself te wens die mense wil net verdwyn. Ek is ook nie iemand wat daarvan sal hou om in ‘n lang ry in ‘n winkel te staan en wag nie, maar dit is een van daardie dinge.

Skynheiligheid is wanneer iemand hierdie Christelike boodskappies op Facebook of Twitter sal sit om vir die wêreld daar buite te wys watter goeie mens jy voorgee om te wees, maar tog sal daardie persoon iemand teiken, afknou of afkraak net omdat die persoon heeltemal verskillend is en heeltemal ander standaarde het as wat jy het. Almal het daardie reg op vryheid. Niemand het daardie reg om mense af te knou en blatant net te boelie net omdat daardie persoon braaf genoeg is om op te staan vir dit wat reg is.

Ek kan nie altyd vinger wys nie. Ek is nie perfek nie. Ek raak maklik ongeduldig met mense. En die einde van die jaar moegheid sal seker ook nie as ‘n verskoning dien nie. Ek kan nie kook nie, maar niks leer my om te leer kook nie so dit is nie ‘n verskoning nie. As ek kwaad is, dan sal ek so een of twee kragwoorde tussenin gooi. As ek opgewerk raak oor iets, of ek raak uitgestres, dan vergryp ek myself byna aan ‘n hele slab sjokolade. Ek het my foute. Ek het my tekortkominge.

Maar een aspek wat my omkrap van mense as hulle voorgee as iemand wat hulle nie werklik is nie, veral op sosiale media. Ek glo jy moet mense met die nodige respek behandel en reg behandel, dan sal die respek na jou kant ook toe kom. Om Bybelversies op sosiale media te sit, maar 5 minute later op Huisgenoot se Facebook forum iemand sleg te sê en af te knou net omdat daardie persoon nie met jou saamstem nie, maak van jou eerder ‘n mens met valse intensies en in my oogpunt beteken al daardie Christelike boodskappies en Bybelversies wat jy so elke oggend opsit maar niks.

Dit sal jou niks in die sak bring as jy mense sleg behandel in die regte lewe, sowel as op sosiale media nie. Of as jy mense afkraak en hul swartsmeer op sosiale media nie. Dink ‘n bietjie so daarna voor jy weer daardie boodskappie van hoop en vergifnis op jou Facebook of Twitter profiel sit.



No comments:

Post a Comment